Van kleins af was Katryntjie anders. Nie anders in die sin van voorkoms nie, maar sommer net anders as die ander. ’n Effe geheimsinnigheid het om haar gehang, dalk weens haar intense belangstelling in die bonatuurlike, die wêreld van ’sien wat ander nie sien nie‘, die magiese bekoring van klippies, beentjies, houtjies, vere en nog wat, saamgekoek in ’n sakkie wat uitgegooi bontgestrooi soveel betekenis ingehou het. Haar leermeester, ’n ou sangoma, wat deur haar toedoen op die plaas kon bly het haar ingewy in die eeueoue geheime van sy voorvaders. Haar pa was nie juis ingenome met die gedagte nie dat een van die kwaksalwers sy plaasvolk toor nie, maar watter pa kan dan nou ’nee‘ sê vir sy dogter. En hy het dit nooit hoef te berou nie, afgesien van die feit dat die onheilige dolosse Katryntjie se lewensmaat geword het nie.
„Juffrou, droom jy alweer?“ Katryntjie ruk soos sy skrik. Die klas skaterlag terwyl die dosent net sy kop skud en voortgaan met sy lesing. Ywerig skryf sy en toe die klok lui raap sy haar boeke bymekaar en storm uit die lesingsaal, en bots trompop teen iemand.
„Jammer!“ sê sy vinnig en probeer voorthaas.
Wag ’n bietjie, ienk!“ sê die persoon en hou haar aan haar arm vas. Sy kyk op in ’n paar ondeund vonkelende oë: „Is dit jou gewoonte om seniors plat te loop?“
„Wie’s jou ienk?“ kap sy terug.
„Jy’s mos Katryntjie, is jy nie?“
Weereens kyk sy na hom en frons: „Ken ek jou?“
„Ja, Katharina. Jy ken my!“ sê hy en hy glimlag breed.
Sy skud haar kop ongelowig terwyl sy toelaat dat hy haar die trappe afstuur.
„Wie is jy?“
Maar hy glimlag net: „Lus vir ’n koeldrank, Katryntjie Dolos?“
Sy gaan staan botstil. Haar oë rek: „Tinus?“ sê vra sy en kan dit nie glo nie.
„Ja, meisiekind!“
Dis asof die tyd eensklaps vyftien jaar teruggedraai word. Sy en Tinus wat saam op die plaas by die ou Sangoma sit en luister na die stem van die dolosse.
„Is jy deesdae altyd so spraaksaam?“ onderbreek hy haar gedagtes: „Kom jy nou saam koeldrank drink of nie?“
„Ek het ’n klas!“ sê sy meteens toe sy onthou waarheen sy op pad was.
„Vergeet dit! Nou gesels ons eers diep dinge.“ en hy stap in die rigting van die Cafeteria terwyl sy gewillig saamloop.
Sy kan nog steeds nie glo dat die aantreklike ou Tinus is nie. Tinus die sproetgesig. Tinus wat, om dit mildelik uit te druk, effe aan die dik kant was.
„Wat sal jy drink?“
„Coke“, antwoord sy en toe hy terugkom, bombardeer sy hom met vrae. Hulle gesels oor toeka se dae en toe hulle uitmekaargaan, het hulle ’n vaste afspraak vir ete Vrydagaand..
Later in die koshuis dam Trieksie, haar kamermaat haar by: „Haai. Wie’s die ou wat jou by die klas ontvoer het?“
„Sommer iemand wat ek van skooldae af ken.“
„Mensig, maar hy’s darem vir jou…“ en sy rol haar oë veelseggend.
Katryntjie lag: „Jy moes hom as seun geken het: sproetgesig, vet en lelik.“
„Rêrig? ’n Mens sal dit nie sê nie. Is hy joune?“
„Moenie laf wees nie.“
„Ek vra maar net. Jy kan hom altyd aan my voorstel.“
___________________________________________________________________________
„Hoe het jy toe gevaar?“
„Dit het gewerk. Sy dink ek’s jy.“ sê Alex opgewonde. „Mensig Tinus, ek is diep in jou skuld.“
„Jy het haar sowaar geflous? Dis iets om op trots te wees!“
„Die naam Katryntjie Dolos het wondere verrig.“
„Dit was my troetelnaam vir haar. Pas net op dat sy nie rêrig die dolosse gooi nie. Sy’s goed, Alex, deksels goed.“
„Bog, glo jy tog nie aan die twak nie?“
Tinus sug: „As die dolosse tog maar waar was. Die ou Sangoma het destyds voorspel dat ek en sy sal trou. Kan jy jou dit voorstel, die pragtige engeltjie en ek?“ Tinus draai sy groot lyf in die rondte en sy sproetgesig glimlag breed. „As ek haar druk is sy plat soos ’n pannekoek!“
„Ek sê jou tog dis bog. Ek’s net bly dat jy my alles van julle twee vertel het. Ek moes nogtans kort-kort voorgee dat ek sekere dinge vergeet het.“
„Ek kan nou nog nie glo dat sy dink jy is ek nie.“ en Tinus skaterlag. „Haar geheue het haar beslis in die steek gelaat. Wat is jou plan van aksie?“
___________________________________________________________________________
„Juffrou Katryntjie Meiring, voordeur…
Katryntjie klim uit die hysbak en omhels haar pa en ma.
„Mag, het jy mooi geword,“ vlei haar pa.
Skielik rek Katryntjie se oë. Daar in die voordeur staan die Sangoma. „Makiep!“ roep sy hardop: „Makiep, wat maak jy hier?“
Later sit hulle in ’n kafee en gesels en Katryntjie se pa vertel dat Makiep so wrintie waar vir hom ’n rol losgeslaan het in ’n TV reeks – as sangoma.
En Makiep beduie en gesels en wil weet hoe die dolosse gaan; en wat die nonnatjie hier kom leer en of die nonnatjie al ’n vriend het. En by hierdie vraag loerkyk hy na haar met skrefiesoë.
„Ek dog dan jy’t gesê die dolosse sê dis Tinus.“
„Hau, nee! Dit was mos sommer ’n grap. Dis g’n dolosse nie. Het nonnatjie nooit self die waarheid gesoek nie?“
Nee!“
Hy neem sy dolosse en gooi hulle op die tafel: „Kyk, nonnatjie, kyk goed!“
Sy staar daarna, dan frons sy en kyk na Makiep.
„Ja, dit is so!“
„Wat is dit met julle twee?“ vra haar pa. „Skaars bymekaar of dis dolosse. Is jy seker jy wil nie eerder leer om ’n sangoma te word nie?“
„Sjuut!“ sê haar ma: „Hulle konsentreer!“
Woordeloos maak Makiep die dolosse bymekaar: „Jy’t gesien?“
„Ek het gesien!“ antwoord sy en sy knip-knip haar oë om die trane terug te hou.
„Wat huil jy, kind?“
„Ag sommer niks nie, pa.“
„Kom laat ons gaan. Makiep het ’n afspraak.“
Die naweek met haar ouers is aangenaam, maar sy mis Tinus. Haar ouers voel dat alles nie pluis is nie, maar Katryntjie swyg en hulle laat haar begaan. Hulle weet as sy toemaak, kan jy niks uit haar kry nie.
Sondagaand lui die foon. Dis Tinus. Hy wil weet of sy wil saamgaan kerk toe. En teen haar beterwete willig sy in. Na kerk sit hulle in die kafeetjie en drink koffie. Maar die spontane tussen hulle ontbreek. En toe hulle afskeid neem, is die soen sonder enige gevoel.
Alex wil haar vasgryp, haar teen hom druk, en vertel hoe lief hy vir haar is – maar kaar koelheid laat hom huiwer, wonder wat skeefgeloop het.
En Katryntjie sit later in haar kamer en snik. Dan was alles maar net ’n grap. Sy het duidelik gesien wat die dolosse sê. Dalk het sy dit aangevoel toe sy gehuiwer het om hulle self te gooi. Tinus en sy was nooit vir mekaar bestem nie. En sy is tog so lief vir hom. Maar wie, wie? Sy haal haar sakkie uit die laai en gooi die dolosse dramaties op haar bed. Dis dieselfde! Daar’s hierdie dekselse ander ou in haar lewe. Dis beslis nie Tinus nie. „Ag wat“, mompel sy meteens. „Dis sommer bygeloof.“ More sal sy met Tinus gaan praat en hom ook sommer trompop vertel dat sy weet van sy skelm uitgaan, en wat hy daaromtrent te sê het.
„Meneer Tinus Botha, voordeur…“ Na ’n paar probeerslae skud die ienk sy kop: „Jammer, hy’s uit. Kan ek ’n boodskap neem?“
„Nee, ek wag vir hom“, sê sy vasberade.
„Wie soek jy?“ vra ’n ou haar wat aangestap kom.
„Tinus Botha!“
„Ou Tinus. Hy’s fliek toe met Saartjie.“
„Saartjie?“
„Sy nooi. Die twee is amper elke aand saam uit.“
„Wanneer kom hy terug?“
„Gewoonlik so teen nege.“
„Dan wag ek vir hom!“
„Wil jy dalk ’n koppie koffie hê.“
„Nee, dankie.“ Die ou is definitief daartoe uit om met haar ’n geselsie aan te knoop en dis die laaste waarvoor sy lus voel. Sy kyk na haar horlosie: agt uur. ’n Hele uur se wag. Soos die tyd aanstap, so begewe die moed haar. Wat gaan sy sê? S6&aartjie is dus haar naam. Sal sy nie liewer maar loop nie? Nee, besluit sy. As dit dan seerkry moet wees, dan nou en klaar verby.
„Juffrou, juffrou! Meneer Botha is hier!“
Sy kyk op en haar droom word bewaarheid. Tinus wat groot en dik is, met ’n sproetgesig. Tinus soos wat sy hom geken het toe hulle maar skaars ses jaar oud was: „Tinus?“
„Hallo Katryntjie Dolos!“ Hy gee haar ’n klapsoen en sy gesig is die ene glimlag. „Mag jy’s mooi! Het jy vir my kom kuier?“
Maar Katryntjie het nie tyd vir ginnegaap nie; „Voor ek vergeet, ienk“, sê sy aan die verbaasde eerstejaar „as Saartjie bel, sê hy’s uit met sy ander nooi.“ Sy maak hom stad toe ry en toe hulle later in ’n klein kafeetjie sit en koffie drink, laat sy hom uitpak.
„Jou blikskottel!“ sê sy uiteindelik.
„Ek het net gedink dit sal werk. Jy weet mos, die dolosse wat voorspel het dat ons twee“ en hy kug, „sal trou!“
„Die dolosse sê g’n so nie. Luister nou Tinus Botha. Jy gaan jou mond hou en maak of jy van niks weet nie, hoor!“
„Ek belowe“ sê hy plegtig en soos twee samesweerders loer hulle na mekaar terwyl die duiweltjies in Katryntjie se oë dans.
„Ek kon vanaand Saartjie se nek omdraai – tot ek uitgevind het wie wie is.“
„Arme Saartjie. En sy weet van niks. O gaats, ek hoop net nie die ienk het jou verspotte boodskap aan haar oorgedra nie.“
„Gaan sy jou oë uitkrap?“
„Erger, veel erger!“ En hulle bars uit van die lag.
Die volgende aand bel Alex en vra of Katryntjie nie met hom wil gaan uiteet nie. En Katryntjie is die ene vriendelikheid self. Natuurlik. Sy sien so daarna uit. Dan sien hulle mekaar Donderdag.Toe sy die foon neersit wil sy jubel van vreugde. Wag maar mansmens, jou dae is getel.
Donderdagaand breek aan. Katryntjie is op haar mooiste uitgevat. Sy glimlag betowerend en Alex kan nie ophou om na haar te kyk nie. By die voordeur gee sy hom ’n piksoen en haak by hom in as hulle na sy motor stap.
„Waarheen gaan ons?“ vra sy kastig geinteresseerd. „Laat my toe om te raai: Die Steakinn.“
„Reg, ja! Hoe het jy geweet?“
„Dolosse!“ en in haar gedagtes voeg sy by: ‚en Tinus‘. Sy merk op dat hy effe onseker begin word.
„Het jy regtig in die dolosse gekyk?“ en hy onthou Tinus se waarskuwing dat sy goed is daarmee.
Sy glimlag net skalks en sê: „Wil jy my hart breek? So ’n romantiese plek onder die sterrehemel.“
En toe hulle later in die skemerlig aan die tafel sit, gesels hulle lekker en spontaan.
Skielik sê Katryntjie: „Hallo! Hallo Saartjie.“ En sy wuif vriendelik ter.,wyl Alex hom lamskrik. Saartjie en Tinus staan nader en groet.
„Mag ek voorstel“, sê Alex en hy sluk „Saartjie en Alex“ en hy kyk Saartjie met groot oë aan om haar mond te hou „Katryntjie“.
„Wil julle nie by ons kom sit nie? vra Katryntjie.
„Ag ek dink die twee wil eerder alleen wees“, sê Alex vinnig.
„Nee wat, dit sal lekker wees om by julle te sit.“ antwoord Tinus en kyk vinnig weg as Alex hom boos aankyk.
Katryntjie gesels te lekker en beklemtoon telkens dat Saartjie darem maar ’n oulike ou het. Met die uitsondering van Alex blyk almal dit te geniet. En Alex is regtig omgekrap oor die vermetelheid van Tinus om hulle hier te kom steur.
Meteens fluister Katryntjie geheimsinnig: „Wil julle weet wat hou die toekoms in?“ En sy haal die leersakkie uit haar handsak. „Luister nou en kyk!“ Die dolosse val op die tafel en sy hou haar twee hande dramaties oor hulle, die vingers wyd oop: „Ek sien dinge wat is en wat nie is nie. Kyk!“ en sy dui op ’n beentjie wat skuins oor ’n stokkie lê en sy loer onderling na Alex wat vasgevang is in die magiese kombinasie van s1/tokkie en been. ‚Maar net so bygelowig soos almal‘ dink sy en kan skaars ’n glimlag onderdruk. „Dis Tinus en dis Alex“ sê sy en beduie na twee klippies. „En dis Saartjie – en hier is ek… En kyk, kyk na die kombinasie!“ Dan raap sy die dolosse bymekaar en pak hulle weg.
„Wat? Wat het jy gesien? Vertel ons!“ Almal praat deurmekaar, teleurgesteld dat Katryntjie niks wil sê nie.
„Ag kom nou, Katryntjie, vertel ons!“
„Wil jy regtig weet?“ en sy kyk diep in Alex se oë.
„Ja!“
„Die dolosse sê, Tinus gaan uit my lewe verdwyn. Na vanaand sal ek nie eintlik weer van hom hoor nie.“
„En Alex? Wat van Alex?“ vra hy angstig.
„Lyk my jy is nie juis bekommerd dat ons paadjies gaan skei nie?“
„Hulle gaan nie, beslis nie!“ sê Alex geesdriftig en sit sy hand op hare.
„Die dolosse praat, en hulle is altyd reg!“
„Sal julle ons twee verskoon. Ek dink ek en Katryntjie wil liewers op ons eie wees. Geniet die aand.“ Hy trek Katryntjie wat nog so ewe wil protesteer op en sleep haar letterlik motor toe.
„Ek is honger. Ons het nog niks geëet nie.“ protesteer sy.
„Wat het jy van Alexÿgesien?“
„Dis Alex se saak, en nie joune nie!“
Albei swyg tot die motor voor die Uniegebou stilhou.
„Hoekom is jy so geinteresseerd in Alex? Jy behoort jou eerder oor Tinus te bekommer.“ Sy klim uit die motor en dan staan hulle saam onder die sterrehemel en kyk na die liggies van die stadt.
„Katryntjie.“ Hy neem haar hand en druk ’n soen daarop, „Vertel my van Alex.“
„Alex gaan nie met Saartjie trou nie!“ sê sy, elke woord beklemtonend.
„Dit weet ek.“
„Weet jy ook dat hy ’n belangrike rol in my lewe gaan speel?“
„Regtig. Watter rol?“ en hy kyk afwagtend na haar.
‚Swernoot`, dink sy, wil alles staan en uitvis en dan beken wie hy regtig is.
„Hy gaan seremoniemeester op my troue wees.“
„Seremoniemeester?“ vra hy onthuts.
„Ja, die arme vent. Die dolosse sê “ en sy hou die sakkie onder sy neus, „dat hy heimlik verlief is op my en dat hy my nooit kan vergeet nie, dat hy nooit sal trou nie.“
Alex haal diep asem en dan bars hy uit: „Die dekselse dolosse! Gee hulle nooit rus nie? Jy gaan trou, meisiekind, met Alex. Al sê die goed ook wat“ en hy gryp die sakkie en gooi dit op die grond en verbrysel dit met sy voet.
„My dolosse!“ sê Katryntjie paniekerig en wil hulle optel maar Alex hou haar vas, trek haar nader en soen haar hartstogtelik. En sy soen hom netso hartstogtelik terug. Toe sy weer kan asemhaal, sê sy: “ Maar as ek met Alex gaan trou, wat dan van jou, Tinus?“ In die donker sien hy nie die tergende spot in haar oë nie.
„Ek’s g’n Tinus nie. Ek is Alex!“
„Alex?“
„Ja, Alex! Tinus en ek…“
Sy druk haar vinger op sy mond: „Die dolosse het klaar gesê!“ en sy rek haar oë en trek hom nader aan sy das. „As jy weer vir my lieg mansmens, vermoor ek jou. Dink jy dat jy vir my iets kan wegsteek?“
„Jou klein klits!“ Hy druk haar teen hom dat sy na asem hyg: „Dan het jy al die tyd geweet!“
„Jy druk my dood!“ Sy stoot hom weg en lag hom uit. „Ek weet nog baie meer.“
„Ek’s nog lank nie klaar met jou nie, Katharina Dolos!“
„Dit weet ek ook!“ sê sy giggelend.“ Hy wil haar weer nadertrek maar sy hou haar hand uit: „My dolosse!“
„Die goed bly net hier!“ sê hy vasberade.
Sy skud haar kop: „Seblief Alex!“
Hy tel die sakkie op en gee dit vir haar. „Die goed is seker stukkend. Ek is jammer.“
„Maak nie saak nie.“ En sy kyk liefdevol na hom terwyl sy dit in haar handsak bêre: „Die sakkie bly van nou af toe!“
„En as jy meer omtrent my wil weet?“
Sy glimlag: „Ek weet al klaar alles!“
„En dit is?“
„Gaan vra ’n sangoma.“ fluister sy terwyl sy sy kop aftrek vir’n soentjie.